Friday, December 4, 2009

So was dit in Graad 2...

Vandag het Kayla met die mooiste briefie by die huis aangekom wat haar Juffrou vir haar gestuur.  Juffrou Nita het ook fotos regdeur die jaar geneem van al hulle opdragte en takies.  Dit is ongelooflik spesiaal en ek kon net nie anders as om die spesiale fotos met almal te deel nie.  Baie dankie Juffrou Nita vir hierdie besonderse oomblikke wat jy kon vasvang op kameras.  Dit maak ons kinders se klastye soveel meer 'n werklikheid.




Hierdie was die briefie wat Kayla gekry het:

November 2009


Kayla,

Juffrou Nita moet nou sowaar vir jou totsiens sê! Ek doen dit met ‘n swaar hart, want jy het dieeep in my hart ingekruip, jong!

Jy is die oulikste dogtertjie met die mooiste maniere en ‘n pragtige geaardheid! Jy was net altyd gehoorsaam en hardwerkend en ek het nooit eers eenkeer nodig gehad om met jou te raas nie. Jou Mamma-hulle kan baie trots wees op jou!

Jy was altyd bereid om vir my werkies te doen en jou betroubaarheid is ook besonders.

Dankie vir al jou liefde en mooi werkies wat jy in die klas gedoen het. Dankie ook vir al die tydskrifte wat jy so aangedra het. Ons gaan dit sommer baie nodig kry volgende jaar.

Geniet jou vakansie en mag jy ‘n geseënde Kersfees saam met jou familie geniet.

Voorspoed vir Gr 3.

Liefde

Juffrou Nita


Juffrou Nita

Die klas het 'n groeptaak gehad waar hulle 'n Hansie en Grietjie huisie moes maak en versier met lekkers.  Kayla het die opdrag gekry om die Hansie en Grietjie Huisie te maak en skool toe te bring.  Oupa Hannes het vir Kayla die huisie gemaak en dit het fantasties gelyk.  Juffrou Nita het vir Kayla gestuur om by al die Graad 2 klasse te gaan spog met haar huisie.  Dankie Oupa Hannes vir die pragtige huisie.




Die Graad 2's het 'n opdrag gekry om tafel te dek en hulle eie ontbyt eetgoed saam te bring sodat hulle dit dan sommer by die skool kan kom eet.  Kayla se tafel het so gelyk:



Die skool se kaskardag was 'n dag vol pret gewees.  Kayla-hulle se klas moes soos "Fênsie Muis" aantrek.  Alhoewel hulle klas nie die kaskarwedrenne gewen het nie, was hulle vol gees en het hulle die dag sommer baie geniet.


 
Die Graad 2's moes elkeen 'n praatjie doen oor enige land se kultuur.  Kayla het gepraat oor die Arabiere.  Weereens baie dankie Tannie Beatrix dat jy ons verlede jaar genooi het om vir julle te kom kuier in Dubai.  Kayla het so bietjie eerstehandse kennis en agtergrond gehad het van die Arabiere nadat sy so bietjie tyd saam met die Arabiere spandeer het.  Juffrou Nita het hierdie oulike fotos geneem van haar praatjie.
 






Hierdie keer moes die kinders 'n weervoorspelling praatjie doen.  Hulle moes nuus kyk en dan soos hulle die weer voorspelling doen op die tv moes hulle in die klas kom doen.  Corrie het haar gehelp met die praatjie en hulle as vol verassings!





 
Kayla by haar Entrepreursstalletjie.  Sy het met die wins wat sy gemaak het vir haar 'n kitaar gaan koop en dit gaan baie goed met haar kitaarlesse.  Abel gee gratis vir haar lesse en hy is baie trots op haar vordering.  Baie dankie aan Oupa Gert en Ouma Adri wat kom pannekoek bak het.  Dit was 'n reuse sukses gewees.  Ouma Sarie, baie dankie vir al die melkterte wat julle gemaak het en Oupa Hannes wat die pragtige rooimier-sif gemaak het vir die kaneel.  Dit was baie oulik.
 


Met die heerlike warm somer wat aangebreek het, het al die Graad 2's waterkaskenades gehad.  Die dag wat dit voor beplan was in November was toe so vrek koud gewees dat hulle dit moes uitstel na die volgende week toe.  Maar hulle het dit ongelooflik baie geniet en Kayla kon nie ophou vertel van alles wat hulle gedoen het nie.



Hier is so paar fotos wat Juffrou Nita geneem het van verskillende kunsaktiwiteite wat hulle in die klas gedoen het.



Juffrou Nita het vir elkeen 'n kans gegee om hulle maatjies te kies in die klas en hulle afgeneem.  Hier is Kayla saam met haar maatjies.



Agter: René, Frikkie, Divan
Voor: Louise, Kayla en Ariana

1 comment:

  1. Dit was nou 'n wonderlike uitstappie. Ek het dit regtig baie geniet om saam met Kayla in haar klas te sit en om met haar haar skooljaar te kon deel.

    Dit is 'n pragtige gebaar wat Juffrou Nita het.

    Baie dankie dat julle dit met ons deel.

    Groete
    xx

    ReplyDelete